Ons wil nie, maar ek dink ons gaan…

Ek hoor my seun huil hier buite op die stoep erens. Ek kan hoor dis ‘n hartseer huil en nie ‘n eina-huil nie. Ek reageer gewoonlik nie vreeslik op die aansit-eina-huil nie. Maar die hartseer huil, hom probeer ek altyd beter maak. Die traantjies loop al in sy nek en sy groen ogies is gras groen en rooi. Ek vra hom wat’s fout boeta? Hy mis vir ouma en oupa se hy. Ouma en oupa wie hy skaars 3 dae terug gesien het! Hulle het spesiaal deurgekom vir sy 4e verjaardag – bless hulle. Hy huil en huil. En vandag, meer as ooit tevore, gaan my hart uit na hom. Want oor die afgelope paar dae het my hart en siel begin verkrummel oor hierdie land. Ons land Suid Afrika. Ek het gesweer ek gaan nie weer galbraak oor die plek nie. Gesweer ek bitch nie weer oor die omstandighede op hierdie blog nie. Gesweer 2008 gaan ‘n positiewe een wees tov my inskrywings…maar ek moet my binnekamers hier uitspoel.

Vandag, 27 Januarie 2008. Voorblad van die Sunday Times. 5 gesigte. 4 swart 1 wit. Die eerste gesig – ons President, Thabo Mbeki. En die opskrif: The brightsparks responsible for the blackouts…ek vat maar altyd die media met ‘n sak sout. Maar soos ek nog ALTYD se, waar daar ‘n rokie trek…

Ek is bevrees dat ons binnekort besluite gaan moet maak. Ek dink nie ek het al met EEN mens gepraat wat kinders het (ek verwys na kinders onder die ouderdom van 18) wat nie bekommerd is oor die toekoms van ons jeug nie. Ons grootste angs (groter as die krag verlies, die geweld en en en) is om ons kinders weg te vat van hul 2 oumas en oupas. Die onregverdigheid van die skuif is so ongelooflik seer vir ons kinders. Waar begin ons om te verduidelik? Ons verlaat hierdie paradys. Hier waar die kinders gelukkig is. Waar die son skyn. Waar die mense fantasties is. Waar ouma en oupa ‘n oproep of ‘n 90 minute se kar rit weg is…Wat se ons vir hulle? Ons kan nie verduidelik van “badies” nie? Kan ons? My vierjarige seun verstaan van die krag. Haha, elke keer as die krag aankom se hy “dankie Liewe Jesus dat Jy die krag aangesit het!!!”. Kostelik. So bleddie onskuldig. So bleddie hartseer…

My hart is seer vandag. Want ons is nie vlugtelinge nie. Ons gee nie op op die lewe nie. Ons is ongelukkig ook nie meer die patriotiese Suid Afrikaners wat ons was 2 jaar (?) terug nie. Ons is nou realisties? Ons raak bang.

Ai. Ai ai ai. Ek het aansoek gedoen vir Australie – nog net die on-line competency toets. Die “preliminary” uitslag was goed. Hulle soek meer informasie oor my man se geskiedenis. Die gedagte om vir ma en pa te los ruk my hart uit. Hier waar ons bly loop ons nog in die strate na 6 met die kinders. Ons vergeet nog af en toe om die deure te sluit. Ek loop saam met boeta skool toe in die oggend terwyl hy sy fietsie trap. Sy skool onderrig is uitstekend. Ons vriende is die beste. Alles wat ons het kan geen geld in die wereld koop nie. En DIT maak dit soveel moeiliker om te gaan. Ha, ek dink aan die tyd toe boeta moes ingaan vir sy skedel operasie op 6 maande. Wat dit soveel erger vir my gemaak het is dat ons ‘n perfekte, normale pragtige babatjie moes instoot teater toe. Daar was ‘n kans dat alles ineen kon stort….so ook, 4 jaar later, sit ons in dieselfde bootjie. Waar ons alles wat perfek is moet los vir iets wat inmekaar kan stort. Maar nou, soos toe, moes ons die besluit maak voor dit te laat is………

Ek rapporteer terug wanneer ons gepraat het. Na vandag se opskrif oor myne wat Vrydag toegemaak het, het ek hoop verloor. Ai. Flippen hel. What a waste?

Ciao

Rene

Advertisements

12 Comments

Filed under 1

12 responses to “Ons wil nie, maar ek dink ons gaan…

  1. boendoe

    Ek weet nie wat om te se nie. Daar is nie meer veel goeie puntjies oor waarop ek jou kan wys nie.

  2. Roer

    Ja jong. Ons ook. Dis tyd of ons dit nou wil weet of nie.

  3. dinge gaan nie beter raak nie.en dit is baie sad.

  4. mielie

    Wat? Roer? Nooit gedink ek sal die dag sien wanneer ek by jou hoor julle maak sulke besluite nie…En weet jy. Ek voel sleg oor baie dinge, maar vir een of ander rede voel ek nie skuldig omdat ek my land “verraai” nie. My land het my verraai. Meer vir hierdie land as wat ons alreeds gedoen het, kan ons nie. En ons gaan nie rondsit om te wag vir ‘n goed genoeg rede om te waai nie. Vir ons gaan dit oor die kinders. Waarheen? Oz? US? UK? Een plek is so bleddie horrible soos die volgende…maar ons is jonk en ek dink dis tyd om oor te begin. Ons kyk op die stadium na Sidney. Sterkte aan julle ook. Dis ‘n moerse besluit.

  5. BB

    Jy sê dit raak René: my land het my verraai… aanhoudend… elke liewe dag – dis soos ‘n vroueslaner of -verneuker. Only difference: it’s never promised me to try and get better. en dit maak dit nog moeiliker – at least wil mens graag ‘n slegte man glo as hy trane in die oë staan en beloftes maak; die enigste trane wat ek in my land se oë sien is dié van ‘n swart snotneus kind in ‘n plakkerskamp sonder kos of klere… die trane in ‘n jong vrou wat gisteraand in haar huis verkrag is in ruil vir haar pay-as-you-go baksteengrootte Ericsson met net nog R5.57 airtime daarop… die trane in ‘n ou 80-jarige oom se oë oor sy ewe-oue lewensmaat se skedel verbrysel is met ‘n stuk hout.
    NO place on earth should be so horrible!! Braaivleis, rugby en sonskyn…?? Enigste voorvereiste om een van daardie te kan geniet is dat jy lewe!
    (weet jy wat is verskriklik erg? die pa van klein Danielle wat 1 jaar gelede geskiet is? hy is ‘n goed opgeleide IT-guy – kan waarskynlik enige plek in die wêreld ‘n werk kry. Weet jy wat sê sy vrou nou die dag? “Hoe kan ons hier weggaan?? Danielle’tjie is dan hier begrawe!!”. It STINKS!!

  6. Vandag kom die outjie humble pie eet hier by jou. So rukkie gelede (7 Junie 2007 om presies te wees) het jy ‘n soortgelyke post geplaas. In my comment het ek my bek lelik uitgespoel oor mense wat die land vir verlaat in die algemeen, en julle spesifiek.

    Ek is jammer, jy was toe inderdaad reg en ek verkeerd. Op die punt wil ek dus graag my standpunt verander. Enige iemand wat die cahones het om Suid Afrika te verlaat om ‘n beter (lees veiliger) lewe elders te gaan probeer maak, het my respek.

    Wat ookal julle besluit: good luck and Godspeed!

  7. mielie

    jaco, op hierdie onderwerp eet gn mens humble pie nie. ons almal is ewe onseker en bang op hierdie stadium. ek sal NOOIT vir niemand se i told u so wat either bly of gaan nie. dis ‘n persoonlike besluit, en sal die moeilikste een wees wat ons tot dusver moet neem. my hart is seer. ons los alles. alles way bekend is. alles wat ons liefhet. vir wat? vir hoop op ‘n beter toekoms ten koste van ons geluk…that’s the choice you have to make. Ons het net een lewe, en ons hoop en bid ons maak die regte besluit. Ons het definitief nie die cahones om te waai nie! Dus, besluit ons maar met ons koppe en nie met ons harte nie.

    Mag ons almal die regte besluite maak oor hierdie land van ons.

    Ciao
    Rene

  8. Politiek!! Ai, as ons maar net uit sy kloue kon ontsnap en almal soos ‘n onskuldige 4jarige seuntjie kon wees…

    😉

  9. Hallieha Rene,

    Dit is ‘n moeilike ene die. Ons het 10 jaar gelede daar deurgegaan, en soos jy seker weet, is ons op pad terug. Nou moet ek duidelik stel dat ons nie weggevlug het of benoud was vir ons toekoms, of enige so iets nie. Ek het ‘n kans gehad om ‘n avontuur te gaan aanpak en het dit aangegryp. Dit wa na Nederland toe, en daarna na Saoëdi toe en finaal na Doebai toe.

    Ek dink dit is belangrik om eers die realiteit van weggaan te besef en nie die impak daarvan te onderskat nie.
    – Jy los jou hele lewe agter jou. Jy los stukke van jou agter wat jy nie weet dat jy mis tot jy daarna begin soek nie. Daarmee bedoel ek nie net emosionele bagasie nie, maar jou vriende, familie, kultuur, die hele boksemdaais. Alles is weg. Jy en jou familie en wat in jou familie is, is al wat daarvan oorbly.
    – Daar is ‘n totale onbewustheid in al die lande waar ek was, oor ons vlak van beskawing in Suid-Afrika, ons vlak van opleiding en ons vlakke van ervaring. As jy gaan, verwag om onder te begin. Jy sal gou jouself kan bewys want ons is sterk baba’s, maar as jy nie met die maatskappy gaan waar jy nou is nie, sal dit jou sekerlik 10 jaar of selfs meer terugsit in jou loopbaan.
    – Daar is ook probleme in ander lande (ja seker al holrug gery), maar ons het in Suid-Afrika net ander probleme as wat ander lande beleef. Ten minstens het ons in Suid-Afrike grootliks ons probleme self veroorsaak ;^).
    – Onthou wie jy agterlaat. ‘n Paar jaar gelede is my suster oorlede in ‘n ongeluk. Ek het toe eers agtergekom hoe my ouers ons mis. Ek het ook eers toe agtergekom hoe veel ek hulle mis. EK het ook toe agtergekom dat my seuns nie Ouma’s or Oupa’s het nie. Net tannies en ooms wat hulle een keer elke twee jaar of so sien. Hulel het geen verbintenis met ons familie nie en is alleenreisigers deur hul toekoms sonder kulturele en familiefondasies. Okei, ons praat Afrikaans in die huis, maar my jongste van 9 praat beter Engels as Afrikaans. Hy praat Engels met ‘n Amerikaanse aksent. Sy kinders sal Engels wees as ek hier bly or na die VS of Aus gaan. Gewaarborg.
    – Jou Afrikaanse buurman in die buiteland is jou grootste vyand. Dieselfde disrespek waarmee hy mense in Suid-Afrika behandel het sal hy ook jou en die gaste in jou gasland mee behandel. Alles sal verkeerd wees. As jy wil gaan, vermy die meeste Suid-Afrikaners – assosieer jouself net met dei wat positief is. Anders sal jy nooit kan aanpas nie. Die negatiefste mense wat ek nog ooit in my lewe ontmoet het, is Suid-Afrikaners wat in die buiteland woon.

    Dit is net ‘n paar aspekte wat soos ek sê baie meer weeg as wat ek gedink het dit sou.

    Nou is die vraag waarom ek wil teruggaan na Suid-Afrika terwyl almal probeer weggaan?

    Daar is baie redes vir my. Want ek gaan nooit weg van iets nie – ek gaan altyd na iets toe.
    – Uit ‘n professionele oogpunt het ek meer geleenthede in Suid-Afrika as wat ek in ‘n leeftyd kan benut. Ek bring tien jaar se buitelandse ervaring na die Suid-Afrikaanse mark toe en mense wil dit hê. Die vraagstuk is nie vir my of ek gaan werk kry nie. Die vraag is watter een van die aanbiedinge gaan die beste by my leefstyl en buitemuurse aktiwiteite inpas.
    – Uit ‘n buitemuurse aktiwiteite oogpunt gesien, het ek weer kans om myself ten volle uit te leef. In my kultuur en in my taal.
    – Ek voeldat ek werklik ‘n verskil wil maak. Hier kyk ek na die sandduine en gaan van my werk na my huis. Ek het nie ‘n stem nie, het geen seggenskap oor enigiets om my nie en dit is dit. Daar is baie geleenthede in Suid-Afrika om ‘n verskil te maak – nie net vir my nie,maar vir alle Suid-Afrikaners wat nie wil isoleer nie. Ja, daar is risiko, maar dit kan nie so bly nie. SA is NIE op pad na ‘n tweede Zimbabwe nie. Die enigste tyd wat dit kan gebeur is as almal wat ‘n verskil wil of kan maak moed opgee.

    Net soos ek is daar duisende ander van ons wat wil terugkeer en dit ook daadwerklik doen. Boots ‘n All. Nie omdat ons idealisties is nie, maar omdat ons geleer het dat ons Boere het rugrate. Ons het die land oopgemaak en maak werk, waarom sou ons nie ‘n bietjie uitdagings wat voor ons lê nie kan oorkom nie? Ons voorouers het die land getem, die infrastruktuur ontwerp en gebou. Die Engelse ‘n bloedneus gegee toe hulle ons land wou afvat. Hulle het, maar ons het teruggekom en ‘n ekonomie gebou wat by verre die sterkste in Afrika is. Wat is nou so moeilik daaraan om Suid-Afrika leefbaar en veilig te maak vir almal? Ons hoef nie van voor te begin nie, ons het net ‘n paar krake om reg te maak.

    My versoek aan jou, is dat as julle wil weggaan omdat julle wil weggaan, dink twe keer daaroor. As julle wil gaan omdat julle ‘n geleentheid sien, doen dit.

    Nouja, ek dink dit is dit vir my vir nou 🙂

    Groete uit die Sandput

    -Gideon-

  10. sonkewer

    Ek kan net vir jou se sterkte, dit is ‘n besluit wat julle self moet neem.
    In jou hart weet jy wat is die regte ding om te doen, maar dit is nie maklik nie.
    Ek is nog nie eendag spyt ons het daardie keuse gemaak nie. Ek sal nie terug gaan nie. Ek weet mens moenie nooit nooit se nie, maar ek se, nooit nooit sal ek terug gaan nie.

    Ons dink aan julle, is groot besluite hierdie…

  11. mielie

    Dankie Gideon. Ek hoor jou, ek glo jou. In fact, ek besef presies wat jy probeer oordra – dit het al alles deur my kop gegaan in die aand as die slaap pille uitgewerk het 🙂

    Dis dinge soos die wat al my onsekerheid laat verdwyn…Beeld, 13 Februarie 2008

    Klasmaats en mede-leerlinge sal laaste eer betoon aan die vermoorde Emily Williams in ‘n gedenkdiens Maandag by die Trinity House Preparatory School.

    Emily is Dinsdag deur ‘n rower doodgeskiet.

    Ongelukkig sal net leerlinge en personeel van die skool by die diens toegelaat word omdat die skool in Randparkrif, Johannesburg, nie genoeg ruimte het om almal te akkommodeer wat laaste eer wil betoon nie, het die skool Woensdagoggend gesê.

    Dit blyk in hierdie stadium dat Emily Vrydag vanuit die Michael’s Anglikaanse kerk in Bryanston begrawe gaan word, maar dit is nie bevestig nie.

    Ondertussen is al vier vermeende rowers wat na bewering betrokke was by die skietery wat tot die dood van die Fairland-meisie gelei het, vasgetrek.

    Drie van die verdagtes is vasgetrek kort ná die skietery in die bure se tuin en die vierde verdagte gistermiddag, het insp. Bokkie Keulder, polisiewoordvoerder, gesê.

    Dit is nog nie duidelik wanneer die verdagtes in die hof sal verskyn nie. Ondersoek word gedoen na die moontlikheid dat hulle met ander misdade verbind kan word.

    ’n Kosblik het gisteroggend op die bloedbevlekte agtersitplek van ’n motor gelê nadat die skrander 12-jarige meisie op pad skool toe deur ’n dwaalkoeël uit ’n rower se pistool getref is.

    Emily is dood terwyl haar ma in spitsverkeer met haar hospitaal toe probeer jaag het.

    Die drama het omstreeks 07:00 begin toe mev. Tony Williams haar motor, ’n brons BMW X3, in die oprit van mnr. Andrew Sanders se huis in Kesselstraat getrek het om dié se dogter, Alison (12), vir skool op te laai, het insp. Keulder gesê.

    Emily, haar sussie, Sophie (10), asook twee ander leerlinge, het op die agtersitplek gesit en wag.

    Hulle was onbewus daarvan dat rowers sowat ’n uur tevore op dié huis toegeslaan en die inwoners – mnr. Sanders, Alison, haar ouma en hul huiswerker – in die huis vasgebind het. Die rowers was besig om huisware van die huis na die motorhuis te dra.

    Williams het onraad vermoed en die Sanderse se veiligheidsmaatskappy ontbied nadat sy een van die rowers buite die huis gewaar het, sê Keulder.

    “Sy het hom gevra wie hy is, waarop hy net omgedraai en terug in die huis ingestap het.”

    Oomblikke later het twee lede van die veiligheidsmaatskappy Chubb opgedaag. ’n Skietery het tussen hulle en die rowers uitgebreek. Emily, wat links agter in die motor gesit het, is deur ’n dwaalkoeël in die kop getref, sê mnr. Mark Stokoe, woordvoerder van Netcare 911.

    Insp. Karen Jacobs, polisiewoordvoerder, sê Williams het dadelik weggejaag, vermoedelik na die Wilgeheuwel-hospitaal in Roodepoort. Op pad daarheen het sy by ’n Shell-vulstasie in C.R. Swartrylaan gestop, waar paramedici wat op pad was na die huis waar die voorval plaasgevind het, noodbehandeling op Emily toegepas het.

    Volgens Stokoe het Emily vermoedelik gesterf voordat sy die hospitaal bereik het. Die polisie het bevestig die dwaalkoeël was van een van die rowers afkomstig.

    Die vulstasie was die grootste gedeelte van die oggend met polisiebande afgesper. Vriende en familie het die ontroosbare Williams en die ander meisies, wat saam met haar ’n saamrygeleentheid gekry het, bygestaan.

    Mev. Williams moes by tye deur vriende regop gehou word.

    Haar man, Roger, het kort ná 08:00 op die toneel aangekom.

    Dr. Herbie Staple, hoof van Trinityhouse, het gesê die skool is platgeslaan.

    “Wanneer jy ’n leerling verloor wat só talentvol en betrokke by die skool is, word dit soveel meer gevoel. Sy was die soort meisie waarheen mense met hul probleme kon gaan. Ons lewens is leeg met haar heengaan.”

    Emily was ’n top10-akademiese leerling in haar skool.

    Mnr. Hilton Scott, adjunk-hoof, sê sy is die derde leerling in vier maande wat dié skool verloor

    Gideon, wat se mens dan?? Nog steeds dat hierdie land se vooruitsigte positief gesien moet word? Dat dit HIER is waar die geleenthede is? Hier waar ons kinders se toekoms is? Ek sukkel Gideon, ek sukkel…

  12. Mielie,

    Dit is erg. Dit is baie erg. So wat doen ons nou? Se ons dat dit nou genoeg is en maak as gemeenskap planne om dinge vas te vat? Gaan praat ons men al die ander mense in Suid-Afrika wat dink dit is genoeg? Sit ons ons voet neer as Suid-Afrikaners van alle rasse en se ” Dit is genoeg!”?

    Ons het die land getem en uit rou materiaal gekerf, maar ons laat ons wegjaag deur common criminals?

    Geleenthede? Jip daar is geleenthede. Kyk om jou. Ek bedoel nie om die braaivleisvure en by die vvv vergaderings nie. Ek bedoel oral. Ek i seen dag in Suid-Afrika, en dan sien ek geleenthede. Daar is geleenthede om ie net goe dte doen vir jouself nie, maar daar is geleenthede om goed te doen vir ons mense. Nie net blankes nie – vir almal, want die enigste manier wat blankes in SA sal regtig goed doen as ‘n groep, is as almal goed doen. Ek dink die belangrikste en betekenisvolst manier wat die Afrikaner weer sy plek kan maak in Suid-Afrika, is deur die leiding te neem om almal suksesvol te maak. Om die katalisator daarvoor te wees.

    Dink daaroor.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s