Monthly Archives: September 2008

Ek is terug! Van Zanzibar, met ‘n huppel in my stap :)

Hier is ek. Was nog nooit eintlik weg nie. MIA miskien. Maar hier. Dol, aan die gang, stil en rustig op dieselfde tyd. Ek het al ‘n paar keer ‘n post begin hier voor die rekenaar. Maar dit elke keer uitgevee “due to lack of substance”. Want, soos ek al voorheen gese het, ek gaan niks hier sit as ek nie regtig iets het om te se nie? En, ongelukkig, kan ‘n mens nie altyd presies hier se se wat jy WIL of VOEL nie…

MAAR!!! Ek is nou hier, en vandag het ek BAIE om te se!

Ons het gister teruggekeer van Zanzibar, Tanzanie. Ek en my man was daar van verlede Sondag tot gister. Dit is my vyfde Afrika land buite SA waar ek al was. En, obviously, die mooiste mooiste eiland waar ek myself nog ooit bevind het!!! Dit was hemels. Alles van die plek was hemels. Ok, wanneer ek se alles, bedoel ek, soos meeste ander eiland oorde alles binne die oord. Die oomblik wanneer jy uit die hek ry dan tref die realiteit van Zanzibar jou. Ek, met my “joodse skuldgevoelens”, voel skuldig wanneer ek by die hek uitry en sien wat daar buite aangaan. Sien waar die mense woon, waar hulle probeer woon. Wat hulle eet, of nie eet nie. Maar, soos enige Suid Afrikaner was een van ons eerste vra natuurlik, wat is die “crime stats” hier? En dit is amper nul. Toe die gids se “about 2 years ago…” toe kon ek nie help om te lag nie! 2 Jaar terug!?!? Het daar iets gebeur maar die situasie is vinnig stopgesit en tot dusver (waarvan hulle weet) was daar nog niks. Geen geweld nie. Geen misdaad. Absurd? Ongelooflik. Irriterend ongelooflik, want so iets mag nie ongelooflik wees nie. Maar dit is. Anyway, hierdie post gaan oor son, see, rus en eet! Al die wonderlike dinge in die lewe wat net so elke nou en dan gebeur.

Ons het in ‘n oord gebly, La Gemma d’ell Est – sover my Italiaans gaan dink ek dit beteken Jewel of the East? Ons het Sondagaand daar aangekom en dadelik iets gaan eet. Die kos was voortreflik! Ek het disse hierdie week geeet wat ek 1. nog nie van gehoor het nie en 2. nooit gedink ek sou eers probeer nie! Maar, when in Rome…! Daar was okra, blou marlyn, kerries, krewe, yams (yuk yuk yuk!!) mangostines, jack fruit, rooi piesangs, kremetart pit-sweets, gekookte groen piesangs, cocktails vir ‘n eerste plek, pasta met krap sous (voooortreflik!) en bielie prawns! Rooi vleis is baie duur in Zanzibar, hulle moet alles invoer vanaf Tanzanie. Die regering in Zan verhoed enige uitvoere (behalwe speserye) dus moet hulle dinge soos vrugtesap invoer vanaf Suid Afrika. Dis amper onheilig want die vrugtebome groei soos bossies in Zan. Daar is pynappel- pawpaw- en piesangbome net waar jy kyk. Die kremetart bome is hemels. Die plantegroei laat my dink aan Nelspruit Tzaneen area – net 100 keer meet ruig! Ons het plante gesien wat onbeskryflik is. Bougainvillas in rooi, pers, oranje en wit. Bome wat groei soos sambrele in lae tot bo. ‘n Mens sukkel om die volle prentjie oor te dra want dit is unbelievable.

Die strande is soos poeier. Die sand is spierwit en die seewater is deurskynend sover jou oe kan sien van die strande af. Ons was een dag uit op ‘n dhow – dis ‘n plaaslike vervoer bootjie wat die zanzi’s gebruik. Ons het uitgery tot op ‘n sandbank in die middel van die see. Toe ons daar aankom was dit 10am en omtrent 28oC! Daar was nie ‘n palm of skaduwee in sig nie maar daar was skadunette opgerig met ‘n strand braai en ‘n porta potty – ‘n tent met ‘n emmer en ‘n houtplank 🙂 teen die tyd wat ons vertrek het (omtrent 14h30) was die temp naby aan 37oC!! Dit was die warmste plek waar ek nog was! Die seewater was so warm ons kon nie afkoel nie. Soos jy in die see inloop het daar wit en silwer vissies om my voete geswem. Die skulpe het op die strand gele, onaagereaak, in perfekte toestand. ‘n Plaaslike Masai groep het gesorg vir die musiek. Die kos, weereens voortreflik. ‘n Perfekte dag.

Lewe terug by die oord was, in ‘n neutedop, slaap, eet, swem, cocktails, tan, eet, visvang, cocktails, mark ekskursies en eet! Ek kan nie ‘n tyd onthou wanneer ek so gerus het nie. Niksdoen niksdoen niksdoen. Dit was wonderlik.

Natuurlik het ons die kinders baie gemis, maar ons het geweet dit was tydelik en hulle was bederf en gelukkig by die huis by ouma en oupa. Met ons terugkoms by die huis was die kinders in ekstase! Ek was lanklaas so bly om twee bekende lyfies vas te hou, te soen en te druk. Vir die res van die dag was my skaduwee ‘n klein 2-jarige dogtertjie. Sy wou nie die risiko vat om my weer te laat gaan nie! Hulle soen ons nog steeds op. Maar na hulle hul weggaan-presentjies gekry het, was hulle somme stukke beter!

En nou, is ons terug in die werklikheid. En dis nodig. Maar dis ook lekker om elke nou en dan vir ‘n week nie ‘n horlosie te dra nie en nie oral selfoon opvangs te he nie. Nie om te gee of dit 10am of 5pm is nie. Nie weet as jy eers 9pm aandete eet nie. Jouself trommeldik te eet, koffie te drink, tv te kyk in die bed en aan die slaap te raak onder ‘n muskiet net. En al wat jy hoor is die golwe wat breek en besies wat sing in die hitte buite jou kamer.

Ek’s verlief op daai eiland. Die mense. Hulle sal ons weer sien, dis verseker!

Ons praat weer,

Ren

6 Comments

Filed under 1