Monthly Archives: December 2008

My huis.

Goeiedag liewe bloggers. Hier skryf ek mos net as ek iets skryfenswaardigs (nuwe woord vir HAT) het. En vandag het iets baie nostalgies in my lewe gebeur. Ek is vandag Witbank toe om die kinders te gaan oplaai wat vir die naweek by ouma en oupa was. My ouers is op die oomblik besig om te trek na ‘n ander huis in Witbank en vanoggend het ek besef dat vandag die laaste dag sal wees wat ek in my ouerhuis sal wees. Ek is daar gebore en het vir 18 jaar daar gebly. Ek dink my ouers bly al 32 jaar daar? My eerste 18 jaar van my lewe…

Die huis was alreeds opgepak toe ek daar aankom. My ma (seen haar) het al die kaste in bokse gepak.ย  Al drie haar dogters se lewens wat ons daar gelos het vir ons opgepak. Oor die jare het ek elke nou en dan ‘n tassie met briewe of blikkies of vrybriewe van haar af gekry, maar die boks wat ek vandag gaan oplaai het het dinge in gehad wat ek gemaak het toe ek 3 jaar oud was…die briewe, die skool klere, kunswerke, blikkies, fotos, jaarblaaie. Maar meeste van als, die kinder boeke. Kinder bybels, Saartjie boeke, Afrikaanse Disney boeke, kinder ensiklopediee, Casper comics! Ongelooflik. En soos ek deur die boeke blaai is ek terug in my bed, 5 jaar oud en ek sien daai prentjies. Heidi en Peter op die slee. Die slee gaan te vinnig teen die bult af en hulle tref ‘n groot klip. Peter vlieg af en stamp sy kop teen die klip…hy word nie wakker nie. Heidi hardloop teen die bult af en gaan roep haar oupa….die storie gaan aan en aan – gelukkig is daar ‘n gelukkige einde! Maar die gevoel wat ek kry wanneer ek daai boekie sien. Dis een wat ek nie kan beskryf nie. Ek wens dit toe vir almal. So ‘n gevoel van nostalgia. Goeie herinneringe. Daai kinderlike vrees oor arme Peter. Onskuld. Hoe ek gesukkel het met die Engelse boekies. Bybels wat my 2 susters vir my gegee het vir my verjaarsdag. My eerste posters teen my mure – Bono van U2. Gelukkig het die ander meer embarassing prente nie hulle plek in die boks gemaak nie – die van die ander “helde” toe ek jonk was *bloos*. Baie embarassing! Dankie ma ๐Ÿ™‚

Ek kan eintlik nie glo die huis is nou sonder sy mense nie? Alhoewel ek al 13 jaar uit die huis is sal dit altyd my huis bly. Ons gesin se huis waar ons nou is is obviously my huis, maar daai huis…daai huis is waar ek groot geword het. Die boom wat ek geklim het. Die sand paaie vir my karre. Pierre wat af in die pad bly. Jaco net agter hom. Die dag toe ek ‘n bottel amonia in die motorhuis gekry het en in die bottel gesnuif het – note to self MOET DIT NOOIT WEER DOEN NIE!!! Die asbes pophuis met die rooi dak. Die teestelle in daai pophuis. Die dak het naderhand begin verweer. Eendag toe merk ek en Pierre ‘n groot gat in die dak en die reen kom in…ons moet ‘n plan maak?!?! Ons vat toe stukke hout en …… ooo! Onthou ek nou net! Sement! ‘n Sak sement wat daar rondgele het. Meng sommer die sement net so reguit uit die sak met water…met ons hande. Stukke hou bo-oor gat met sement bo-oor hout. Sement val tussen hout deur, deur gat in dak in pophuis…maar die meeste reen is uitgehou. Ons handjies was rou van daai sement maar ten minste kon ons weer speel sonder om nat te reen.

Die boom in die erf agter was my klim boom. Ek het hom so baie geklim dat ek sweer die takke ‘n tipeย  “lounger” gevorm het vir my. Daai boom het die beste boomgom gehad in die straat! Ek was ‘n boomgom junkie ๐Ÿ™‚ Soos ek insekte, klippe en blare geeet het, het ek ook boomgom geeet…die vet weet, dat ek nie vandag ‘n vegetarier is nie is ‘n freaking wonderwerk!

Ons het ‘n yster swaai gehad. Een van daai met twee sitplekke wat na mekaar toe kyk met die voet-rus in die middel onder, tussen ‘n yster raam. My ouers was slim, hulle het geweet daai tipe swaai het net een persoon nodig om hom te swaai so niemand het ooit gekla dat die ander een haar hoef te swaai nie! Slim gedink. Party dae was ek te wild op daai ding. Ek het die een swaai afgehaak, saam met die voetrus en myself so hoog geswaai dat die swaai in die lug afgekom het en ek getrek het….seer.

Aan die kant van die huis waar die swembad was, was daar ‘n tipe patio – dit was eintlik voor die swembad gebou was, so daar was net die patio en die grasperk. Daar het ek, my susters en 2 of 3 maatjies “kinders kinders hoe laat is dit” gespeel. Onthou julle dit!! Daai adrenalien rush as jy die kind is en die wolf gaat NOU enige tyd omdraai!! Ooo my tone het gekrul van die vrees! Daar was ‘n ander game ook – aftrekkertjie. Hoe hy werk is die aftrekker staan onder op die gras en die spelers bo op die boonste trappie. Dan trek die afterkker jou af en soos jy land moet jy vries. Die aftrekker moet dan raai wat is jy…nou die van julle wat my ken sal weet dat ek hierdie game gelove het! Soos ek land het ek skielik geval en soos ‘n tafel gaan staan…of soos ‘n hond wat slaap. Ek dink al die ander deelnemers het actually gevries soos hulle geval het, met die gevolg hulle aksies wat bitter onverbeeldingryk…teen myne in elkgeval!

Daai selfde stoep het leiklip op gehad. Partykeer wanneer die leiklip afkom (soos elke middag, miraculously het die klip sommer net “afgekom” wanneer ek daar verby geloop het…) was daar onder die klip so ‘n sagte oranje ander klip. Dan kap ek daai sagte klip uit en sit en verlustig my aan daai sagte klip wat soos bordkryt smaak…ja ok, as ek dit hier skryf klink dit BAIE erger as wat dit toe was, maar hier is ek eerlik!! Die consistency was soos bordkryt maar die smaak soos grond. Net skoner. Of iets. Of iets.

Die akkerboom langs die swembad. Met die gladde klein akkertjies. Dit het ek ook geeet. Ek se mos, probeer alles in die tuin en dit wat jou lighoofdig maak of jou mond doodmaak, don’t try that one again! En toe eindig ek wel op by Hotel Skool! Haha! Ek het die akker se doppie afgetrek en die sagte, liggeel akkertjie uitgehaal. As jy dan die akkertjie in die helfte breek is daar so ‘n klein stingeltjie in die akker vleis. Daai stingeltjie het ek eerste geeet en dan die res van vleis. Dit was nogal sleg onthou ek, maar ek het dit geeet. Vir die wat dalk hieroor wonder, ja daar was kos in die huis ๐Ÿ™‚

Soos jy kan sien, ek raak meegevoer met hierdie onderwerp. Dis 10pm en ek kan hier sit en stories vertel tot more oggend toe. Maar ek gaan nou afsluit. Ek gaan hierdie onderwerp oophou en wanneer ek weer hier is gaan ek dit hervat. Al is dit net vir my. Want ek is nostalgies. Ek is hartseer en my trane sit vlak. Ek gaan jou mis ou huis. Die huis waar ek gevorm is. Grootgemaak is. Lief gewees was. Lief was. Gelag het, gehuil het. Van my eerste dag by my huis tot my laaste dag in matriek. My liewe ma, my liewe pa. My 2 kosbare susters. Hel, ons het mekaar MAL gehad in daai huis! 3 Susters! Oudste probeer vry en die 2 kleintjies irriteer die rook uit haar uit! Wow. Soveel ongelooflike herinneringe. Dankie Pa en Ma. Dankie vir ons huis. Dankie dat julle ons daar veilig gehou het. Dankie vir julle beskerming en liefde. Dankie vir julle ondersteuning. Dankie vir lekker verjaarsdae en kersfees. Dankie Pa vir toast met bacon en gesmelte kaas vir ontbyt. Dankie ma vir warm drukkies en ma wat soos handeroom ruik. Ma het “uitgaan parfuum” gehad. So lekker soos wat dit geruik het, kan ek onthou dat daai reuk my altyd hartseer gemaak het. Want dan weet ek ma en pa gaan uit en ek gaan hulle mis. Pa in sy pikkewyn soot en ma in haar mooi aandrok. Ai, die knop in my keel is weg want my trane vloei.

Ek bid dat my kinders hulle kinderhuis altyd sal onthou soos ek dit onthou. ‘n Avontuur. Liefde, geluk, warmte, sekuriteit, my beskerming.

Dankie Pa en Ma.

4 Comments

Filed under 1